Sunday, September 18, 2016

Onderhoud. Rudolf Stehle - Die muse plak by digter De Lange – en hy kla glad nie


12 Mei 2014

Johann de Lange beleef ’n baie vrugbare tyd. Stil punt van die aarde, sy derde bundel in net soveel jaar, het onlangs verskyn.

Die bundel is jou derde sedert jy in 2011 die Hertzogprys ontvang het. Het dié prys ’n invloed gehad op hoe gereeld jy sedertdien publiseer?
Nee. Net vóór die bundel waarvoor ek die prys gekry het, Die algebra van nood, het ek om en by 14 jaar lank nie gepubliseer nie. Maar ek het wel aanhou skryf en afrond, en ek het ’n geweldige klomp verse bymekaar gehad. Ek was ook in daardie tyd op soek na ’n styl waarin ek nuwe inhoude kon oordra. So, ná Algebra, nadat ek die prys ontvang het, het ek ’n groot aantal verse oorgehad waaruit ek vir die volgende bundels kon put, maar ek het ook met elke bundel nuwe verse bygeskryf.
Ek moet erken ek beleef ’n vrugbare tyd: die stroom nuwe gedigte het selfs nóú, vier jaar later, nie opgehou nie. Die muse plak by my, maar ek kla nie. 

Is die verse in dié bundel almal nuut geskryf?
Die oorgrote meerderheid van die verse is nuut geskryf, maar daar is ook verse wat van vorige fases dateer, verse wat ek ten tyde van die vorige bundels nie bevredigend kon afwerk nie, of wat nog van kiem af moes ontwikkel. Selfs van die verse wat uit ’n vorige fase dateer word herskryf en aangepas om deel te word van ’n betrokke bundel. 

Waarna kan die “stil punt” in die titel van die bundel verwys?
Daar is verskillende moontlikhede, maar die mees voor die hand liggende betekenis is daardie oomblik van insig, van verheldering. Vir my het die poësie ’n epifaniese aard. Die stil punt is die oomblik wanneer waarneming oorgaan in verheldering, of in ’n wending. Vir my is die poësie ’n ars poetica, en handel alle gedigte uiteindelik oor die skryf van gedigte, oor die aard van taal.

Op die voorblad sit jy jou “vennootskap” met die kunstenaar Judith Mason voort. Waarby vind jy in haar werk aanklank?
Ek het groot bewondering vir haar werk, ’n waardering wat teruggaan na my laerskooljare. Ek het onmiddellik aanklank gevind by haar werk sonder om dit te kon verduidelik of selfs, glo ek, te verstaan. Sy is vir my ’n poet’s painter. Sy dink visueel soos ’n digter. Haar werk is vol transformasie, haar styl is metafories, die ooreenskuif van betekenislae.

Die bundel bevat talle nadigtings. Op grond waarvan besluit jy om ’n ander digter na te dig?
Die meeste toespelings op die werk van ander digters in my werk gebeur onbewustelik. Ek lees geweldig wyd, en daar is ook plaaslike digters wie se werk ek jaarliks herlees. Ek glo daaraan om die tradisie te verstaan waarbinne ek werk en daarbinne voort te dig.
In ander gevalle is die gesprek met digters of gedigte bewustelik, soos byvoorbeeld die werk van N.P. van Wyk Louw en Sheila Cussons. Albei digters vir wie se werk en denkwêreld ek groot affiniteit voel.
Die begeerte om op sommige gedigte te “antwoord” is so oud soos die poësie sélf. Ek is ook lief daarvoor om verse te skryf waarin ek met skilderye, foto’s of beelde in woorde omgaan, eweneens deel van oertradisies.