Tuesday, January 21, 2014

T. S. Eliot - Die Minnesang van J. Alfred Prufrok



Die Minnesang van J. Alfred Prufrok

S’io credesse che mia risposta fosse
A persona che mai tornasse al mondo,
Questa fiamma staria senza piu scosse.
Ma perciocche giammai di questo fondo
Non torno vivo alcun, s’i’odo il vero,
Senza tema d’infamia ti rispondo.[1]

 Inferno XXVII, 61 – 66

Kom laat ons uitstap, ek en jy
Terwyl die vroegaand uitgestrek lê teen die lug
Soos ‘n pasiënt verdoof op die operasietafel;
Laat ons uitstap, deur sekere halfverlate strate,
Die mompelende toevlug                                                 5
Van rustelose nagte in goedkoop oornag-motelle
En saagselvloer-restourante met oesterskulpe:
Strate wat aandrentel soos ’n seurderige argument
Met verraderlike bedoelings
En jou voorgaan tot by die oorrompelende vraag…    10
Moet net nie vra nie: “Wat is dit?”
Laat ons gaan besoek aflê.

Die vroue kom en gaan in die vertrek
En voer oor Michelangelo gesprek.

Die geel mis wat sy rug skuur teen die vensterglas      15
Die geel rook wat sy snorbaard skuur teen die vensterglas
Het sy tong in die uithoeke van die aand ingelek,
Getalm bo poele wat oor riole opdam,
Het op sy rug laat val die roet wat van skoorstene stuif,
Verby ’n terras geglip, meteens opgespring,                   20
En toe hy sien dit was ‘n knus Oktobernag
Een keer om die huis gekrul, en ingeslaap.

En inderdaad sal daar tyd wees
Vir die geel rook wat straatlangs gly,
En sy rug skuur teen vensterglas;                                     25
Daar sal tyd wees, daar sal tyd wees
Om ’n gesig gereed te hê vir die gesigte wat jou teenkom;
Daar sal tyd wees om te moor en te skep
En tyd vir al die werke en dae van hande
Wat lig en ‘n vraag op jou bord laat val;                            30
Tyd vir jou en tyd vir my,
En tyd nog vir ‘n honderd weifelings,
En vir ‘n honderd sienings en hersienings,
Voor dit tyd is vir roosterbrood en tee.

Die vroue kom en gaan in die vertrek                                35
En voer oor Michelangelo gesprek.

En inderdaad sal daar tyd wees
Om te wonder: “Durf ek?” en: “Durf ek?”
Tyd om terug te draai en die trappe af te klim,
Met ’n kaal kol in die middel van my kop –                        40
(Hulle sal sê: “Sy hare raak nou regtig dun!”)
My oggendjas, my kraag styf opgeknoop tot onder my ken,
My strikdas duur dog beskeie, maar laat geld deur ‘n eenvoudige speld –
(Hulle sal sê: “Maar hoe dun is sy arms en bene dan!”)
Durf ek                                                                                      45
Die heelal steur?
In ’n minuut is daar tyd genoeg
Vir besluite en besinnings wat in ‘n minuut weer om kan keer.

Want ek het hulle almal reeds geken, die hele spul: –
Die aande, oggende, middae,                                               50
Ek het my lewe uitgemeet met koffielepels;
Ek ken die stemme wat wegsterf met die sterwende herfs
Onder die musiek wat opklink uit ‘n veraf vertrek.
So hoe kan ek my aanstel?

En ek het alreeds die oë geken, almal van hulle –          55
Die oë wat jou vaspen met ’n geformuleerde frase,
En wanneer ek geformuleer is, en uitgestrek lê onder ‘n speld,
Wanneer ek vasgespeld en spartelend wriemel teen ’n muur,
Hoe sal ek dan begin
Om al die stompies van my dae & grille uit te spoeg?     60
     En hoe kan ek my aanstel?

En ek het alreeds die arms geken, elke iedereen –
Arms wat omarmband is en wit en naak
(maar in die lamplig, donsig met ligbruin haartjies!)
Is dit parfuum van ’n rok                                                       65
Wat my so laat afdwaal?
Arms wat uitgestrek lê op ’n tafel, of gedraai is om ’n sjaal.
     En hoe kan ek my aanstel?
     En hoe sal ek begin?

Sal ek sê, ek het teen skemer deur smal strate geloop       70
En gekyk na die rook wat opstyg uit die pype
Van eensame mans in hempsmoue, wat by vensters uitleun …?

Ek behoort te wees: twee knoesterige knypers
Wat skarrel oor die bodems van stil oseane.
. . . . .

En die middag, die nanag, slaap so rustig.                            75
Gesus deur lang vingers,
Slapend … moeg … of dit is skynsiek,
Uitgestrek op die vloer, hier neffens jou en my.
Sou ek, na tee en koekies en waterys,
Die krag hê om die oomblik tot sy krisis te dwing?              80
En hoewel ek gehuil en gevas het, gehuil en gebid het,
Hoewel ek my kop (al effens bles) sien ingedra word op ’n skinkbord,
Is ek geen profeet – en dis van geen groot belang nie;
Ek het die oomblik van my grootsheid sien flikker,
Ek het die ewige Lakei my jas sien uithou, en giggel,              85
En om kort te gaan, ek was beangs.

En sou dit die moeite werd wees, na dit als,
Na die koppies, die marmelade, die tee,
Tussen die porselein, tussen gesprekke oor jou en my,
Sou dit die moeite werd wees                                                         90
Om die aangeleentheid af te byt met ’n glimlag,
Om die heelal saam te pers in ’n bal
Wat jy rol in die rigting van die een of ander oorweldigende vraag,
Om te sê: “Ek is Lasarus, wat teruggekeer het uit die dood,
Teruggekeer het om julle te vertel, ek sal julle almal vertel” –     95
As een, terwyl sy ’n kussing reg skik onder haar kop,
Sou sê: “Dis glad nie wat ek bedoel het nie.
Jy het dit heeltemal mis.”

En sou dit die moeite werd wees, na dit als,
Sou dit die moeite werd wees,                                                            100
Na die sonsondergange en die agterplase en die besprinkelde strate,
Na die romans, na die teekoppies, na die rompe wat oor die vloer sleep –
En dié, en soveel meer? –
Dis onmoontlik om te sê presies wat ek bedoel!
Maar byna soos ‘n toorlantern wat die senuwees in patrone op die skerm gooi:
Sou dit die moeite werd wees
As een, wat ‘n kussing skik of ‘n sjaal afgooi,
En na die venster draai, sou sê:
    “Jy het dit heeltemal mis.
Dis glad nie wat ek bedoel het nie.”                                                   110
. . . . .

Nee! Ek is geen prins Hamlet, wou nooit een wees;
Net ’n ondergeskikte heer, een wat sal deug
Om ’n vooruitgang aan te help, ‘n debakel of twee te begin,
Die prins te adviseer; sonder twyfel bruikbaar,
Onderdanig, bly om van nut te wees,                                                  115
polities, versigtig, en deeglik; 
Breedsprakig, maar ietwat stoets;
By tye, inderdaad, belaglik –
Byna, soms, die Dwaas.

Ek word oud … Ek word oud …                                                              120
Ek gaan die some van my broekspype omslaan.

Sal ek my hare middelpaadjie kam? Durf ek ‘n perske eet?
Ek sal wit flenniebroeke dra, en op die strand gaan stap.
Ek het die meerminne hoor sing, elk vir die ander.

Ek dink nie hulle sal vir my sing nie.                                                    125

Ek het hulle see-in sien ry op die golwe
Terwyl hulle die see se wit teruggewaaide hare kam
As die wind die water wit en swart waai.

Ons het getalm in kamers van die see
By see-meisies gekroon met seewier rooi en bruin                             130
Tot mensestemme ons wakker maak, en ons verdrink.


[1] Volgens Jough Dempsey is Guido da Montefeltro aan die woord, 'n vals raadgewer in die gedaante van 'n vlam. Hy praat met Dante wat die Hel betree het. Die reëls word soos volg in Engels vertaal: "If I thought my answer were given / to anyone who would ever return to the world, / this flame would stand still without moving any further. / But since never from this abyss / has anyone ever returned alive, if what I hear is true, / without fear of infamy I answer you" (Ferguson: 1230).

(Vertaal deur Johann de Lange, 2003)