Friday, September 6, 2013

Seamus Heaney - Enigiets kan gebeur

Seamus Heaney, 2009 (Foto: Antonio Olmos)

Enigiets kan gebeur. Jy weet hoe Jupiter
meestal sal wag vir wolke om op te steek
voor hy sy weerlig neersmyt? Wel, nét nou
het hy sy donderwa en sy perde laat gallop

oor ’n blou helder lug. Dit het die aarde geskud 
én die verstopte onderaarde, die Styx-rivier,
die kronkelende strome, die Atlantiese kus sélf.
Enigiets kan gebeur, die hoogste torings

omgekeer word, dié in hoë plekke afgeskrik,
dié wat oorgesien is, betrag word. Strop-bek voorspoed
swiep neer, laat die lug snak, skeur die kruin van een áf,
en sit dit bloeiend op die volgende een neer.

Grond gee mee. Die hemele se gewig 
lig van Atlas af op soos ’n keteldeksel.
Sluistene skuif, niks val weer in plek nie.
Telluriese as en vonk-kieme kook weg.

(Vertaal deur Johann de Lange)