Monday, September 16, 2013

Die dood van diere

Tzar & Zachari

Vandat ek kan onthou het ek 'n liefde vir diere gehad. My jare op die plaas het ek altyd iets gehad wat ek hans grootgemaak het, 'n lammer, 'n kalkoen, 'n apie, 'n tarentaal.

Hoewel ek 'n voorliefde het vir katte, het ek grootgeword in 'n familie wat nie katmense was nie, so my eerste kontak met troeteldiere was met honde, & hulle het in my hart gekruip soos net hulle weet hoe. Maar ek het my voorgeneem die dag as ek op eie voete staan, kry  ek vir my 'n kat. En my eerste kat was Gunar, 'n lieflike bruin Burmees. Daarna het ek Vareck gehad, 'n Siamees met die mooiste blou oë & geaardheid, Toulouse, 'n svelte Havanna Brown & Yoshi, my eerste sphynx, ook 'n blue-eyed boy. Aan sy dood dra ek steeds die swaarste. 

Op die oomblik het ek nóg twee sphynx-katte, Zachari & Tzar. 

'n Lewe sonder diere is vir my ondenkbaar, & mense wat nie van diere hou nie is vir my onbegryplik, & nie te vertrou nie. 

Maar saam met die liefde van & vir diere kom ook verantwoordelikheid. En soms moeilike besluite: om nie aan jou eie behoeftes te dink nie, maar aan wat die beste is vir hulle. Almal wat diere in hulle lewens het, ken die pyn van afskeid neem. 

As 'n blyk van waardering vir wat hulle in my lewe beteken het, 'n paar van die verse wat ek  geskryf om hulle lewens te vier.

Die dood van diere
vir Gunar, Vareck, Toulouse & Yoshi

Hoe goed om nié te weet
dat daar ’n einde kom
aan jou bestaan: nie te hoef vergeet

jy leef louter in die japtrap,
sonder aanstons
of weleer. Ons daarenteen

bevolk drie tye tegelyk
& ken berou
& weet ons dade yk.

*

Schrödinger se kat
† Gunar, 1 Junie 2003

In die nanag het ek opgeskrik
& meteens geweet jy’s dood:
eindelik met die heelal kiets,
my katvoet geesgenoot. 

Volgens wette van die wetenskap
verdwyn jy in geen vergetelgat,
maar woon gelyktydig hiér & nié:
‘n opperste kwantumkat. 

Schrödinger was reg: verseël
in vergeet-my-nie se kis, 
oë soos nuutgemunte pennings,
bly jou uiteinde helend onbeslis.

*

In memoriam: Vareck
                                and what I want to know is
how do you like your blue-eyed boy
Mister Death
e.e. cummings

Jou naam het ek ver gaan haal
in koue streke waar die lug oopoog
jóúne naboots. Aan ons sonniger kus
het jou wit pels verdonker & verdig.
Vir elf jaar was jy vertroueling
& vriend; gulhartig van natuur
het jy alle toevoegings tot die gesin
met grasie aanvaar.

Dat ék wat jou liefhet
vanoggend oor jou éinde
moet beslis – op ’n mooi dag
& met die bure se windklokkies
buite – dít was bitter, lieferd.
Toe die laaste druppels uit die naald
in jou mooi lyf wegsypel, het jy
na my opgekyk: jou oë was ver & oop
op streke waar ek nie kan volg,
& jy my vir nou katvoet vooruit loop.

† 12 Desember 1992 - 29 November 2004

*

Brahmaan
vir Yoshi

Om goddelik te wil wees
soos jy, suiwer net gees,
moet ek my glo kwytskeld
van wat my nog hiér hou:

begeerte, honger, ego, geld,
ook verknog-wees-aan-jou.
Hierdie dinge ketting my vas
aan die karma-wiel.

Eers as ek aflê
áls wat ménslik aan my is,
kan ek verlig & veerlig weet

ons is suiwer siel,
& sien ek jou daagliks
stralend langs my kniel.

† 25 Desember 2002 – 12 April 2011

*

Yoshi

† 25 Desember 2002 – 12 April 2011

Lenig, met voor- & agterpote,
die ribbekas, skouerblaaie,
& jou darteldraf ligvoets
stertorent – áls is van die fyn 
rugstring
gesuspendeer,
terwyl jy vórentoe luister, ore gespits,
jou blou oë luisterstil
wat na die muisvoëls luister,
fyn neusvleuels wat tril-
lend die buurtnuus uitsnuffel.
In jou keel klop ’n slag-
aar ritmies, so delikaat gekalibreer
ek kan die bloed van hart-
kamer na hartkamer volg.