Saturday, August 24, 2013

Johann de Lange - Perspektief: Balkon van die skrywer

Eugene Terre'blanche met sy perd Foto: Antonia Steyn

Perspektief: Balkon van die skrywer

na ‘n gedig van Johan van Wyk

Toegewikkel in ’n laken van wit wolsatyn
leun ons kaalbas oor die balkon & kyk
na die berede optog (geen oopdakmotor)
EUGÈNE TERRE'BLANCHE VOLKSMAN DIGTER
van Kerkplein op in Paul Kruger.
Perdeskoene stommel op die teer.
Onder die breë boude & blink pronksterte
stoom warm bolle mis.
Op sy swart perd, in swart hemp, kakiebroek & -hoed,
saai die leier se stem tussen die geboue terreur,
sy agterryers in kakieklere met sweetvlekke,
oop nekke, baarde, ferm boude in die saal.
Die vangtou van ’n lens bring hom
aarde toe, op die harde teer.

Die aand ná sy pangamoord
(sy lyk onteer in ’n troostelose kamer: die lappie roes-
rooi skaamhare sigbaar deur die oop ritssluiter)
word hy op televisie vereer
met ’n kortbegrip van beelde & ’n uitspraak:
hy sal verál ook onthou word as ’n gevalle ruiter.



Friday, August 23, 2013

Richie McCaffery - Die leie



My Oumagrootjie het ’n tyd herroep
toe sy as skoolmeisie geskryf het op leie
en met ’n eenvoudige vee van ’n klam lap
het beskawings geval, tale tot stof geword.

Die dak van haar laaste huis was ’n lesuur vol
van leie, goue medaljes van ligeen,
mos soos sybokhaar, en die eindelose reën
jaar na jaar wat herinnerings uitgewis het.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Wednesday, August 21, 2013

Howard Moss - Bedopmaak


Howard Moss © Mark Hillringhouse

Ek weet hoe om ’n bed op te maak
terwyl ek nog steeds daarin lê, en
uitglip deur ’n verbeelde opening
asof ek gepers word uit ’n buis:
Pluk, stryk – die bed is opgemaak.
En as opstandings net so maklik is,
wel, dan glo ek in die hele spul:
Lasarus wat opstaan uit sy graf,
Elia sommer vertikaal –
hoewel dood, meen ek, meer as net slim
huishoudelike wenke in gedagte het,
en die bed opgemaak wil hê, eens en vir altyd.


(Vertaal deur Johann de Lange)

Tuesday, August 20, 2013

Richie McCaffery - Die orrel

Richie McCaffery (1986 - )

Sondae loei die orrel
soos ’n groot gestrande walvis.

Mense vat sy vet om lampe
binne hulleself aan te steek.

Iets het gesterf in groot pyn
maar dis nie vir my om te sê wat.

Die deure gaan oop, lig stroom in
en meteens verdrink ons almal.


(Vertaal deur Johann de Lange)

Saturday, August 17, 2013

Richie McCaffery - Tollende borde

Richie McCaffery (1986 - )


My ma was so verskrik as kwik,
dol soos ’n Disraeli keilhoed
waarbinne ’n gipswit konyn wegkruip.

Sy’t op ’n keer vertel, die mout het gepraat, 
ek is nie haar eersgebore seun nie,
daar was seminale sopies.

Sy’t gesê om te verwag 
is baie soos om ’n bord van beenporselein
te laat tol op die dunste steel binne jou.

Breekskade is onvermydelik.
Dit is ’n kwessie van watter stuk
ongeskonde gaan val om al in die rondte

op die hardehoutvloer te rol, die rand wat lui 
en grens. My suster is ’n wilde vuurproef,
’n ambagsman se veelkleurige bord

steeds aan’t tol. Ek is ’n wit kantien-
piering, gereed om getaan te word met tee
wat mors. ’n Bakhand vir stortsels.


(Vertaal deur Johann de Lange)

Richie McCaffery - Swartbord by St. Cuthbert


Richie McCaffery (1986 - )

In die kryt-geut onder die swartbord
is lesse afgestof en lank reeds vergete.

Die onderwyser kras nogeens voort
en krap op die donker tabula rasa

die waarhede tot dusver oor God en rekene
met die uitwisbare wit van skulpfossiele.


(Vertaal deur Johann de Lange)

Richie McCaffery - Aankoms


Richie McCaffery (1986 - )

Toe my ma arriveer
wou niemand vir haar teken nie,
buite gelos soos ’n pakkie
op ’n vreemdeling se drumpel.

Geboorte-bondel, ongewenste aflewering,
toegedraai in ’n linnesak
gestempel Tate & Lyle Sugar
sewe pond te swaar.

Geen roerbeeld nie, net reënwolke,
haar lippe saffierblou,
verkrimpte longe soos aarbeie
vol longontsteking.


(Vertaal deur Johann de Lange)

Sunday, August 11, 2013

Huldeblyk: Wilma Stockenström 80


Wilma Stockenström, 80 (Foto deur Liesl Jobson)

Wilma Stockenström is vandag 80. Gebore 7 Augustus 1933 op Napier, Wes-Kaap.

As dit nie vir die skerp oog van Dirk Opperman was nie, het die Afrikaanse letterkunde & poësieliefhebbers straks nie die ontplooiing van ‘n merkwaardige stem die afgelope 44 jaar meegemaak nie. Want Wilma Stockenström was in die eerste plek aktrise toe sy in 1970 Vir die bysiende leser by Rijger uitgewers gepubliseer het. Die bundel kon maklik vergete geraak het soos so dikwels gebeur met die publikasies van klein uitgewerye. Dirk Opperman het dit egter onder oë gekry & H&R oorreed om die regte & die voorraad van die bundel oor te neem.

Wat volg, het alle verwagtings oortref. In die daaropvolgende dekades skryf sy agt digbundels, vyf romans & etlike dramatekste (waarvan net een gepubliseer is), & wen elke belangrike literêre prys. Saam met Henriëtte Grove is sy die enigste vroueskrywer wat die Hertzog-prys in twee genres ontvang het, in 1977 vir haar digbundel, Van vergetelheid en van glans& in 1991 vir haar roman, Abjater wat so lag.

Ná die verruklike Van vergetelheid en van glans waarmee sy haar reputasie as digter om mee rekening te hou, gevestig het, publiseer sy Monsterverse in 1984, myns insiens ’n bundel wat saam met N.P. van Wyk Louw se Tristia, en Opperman se Komas uit ’n bamboesstok as een van die grootste digbundels in Afrikaans beskou kan word.

Ek noem Van Wyk Louw spesifiek omdat hy saam met Peter Blum die grootste invloed op die poësie van Stockenström gehad het. By beide is die gedig ingebed in die historiese, & word taal voorop gestel. Waar Louw veelal die Europese geskiedenis gemyn het, het Stockenström haar visier van meet af aan op Afrika gerig & onvergeetlike verse soos “By L’Agulhas ’n wandeling”, “Die skedel lag al huil die gesig”, “Glansspreeubekentenis”, “Die eland”, “Kraak die aardbol langs ’n naat”, & “Die komeet besoek die Kaap van verkragting” geskryf.

So wyd is die worp wat sy met haar verse gooi dat dit haas onmoontlik is om in die bestek van hierdie kort huldeblyk vir die leser ’n kortbegrip van die omvang en diepte van haar oeuvre te gee. 

As prosaskrywer het sy haar merk gemaak met Die kremetartekspedisie, 'n meesterlike teks in poëtiese taal wat deur J.M. Coetzee in Engels vertaal is as Expedition to the baobab tree. Die roman is daarna in etlike ander tale vertaal, onder meer in Nederlands, Frans, Hebreeus, Duits, Italiaans & Sweeds. In 1998 ontvang sy die gesogte Grinzane Cavour Prys vir die Italiaanse vertaling.

Benewens verhoogwerk het sy ook in rolprente vir TV en die groot doek opgetree, onder meer Die besoeker (Athol Fugard se drama oor die lewe van Eugène N. Marais) waarvoor sy Rapport-Oscar ontvang het, Verspeelde lente& Promised Land (2002), gebaseer op die roman van Karel Schoeman.

Hoewel Stockenström van meet af aan gedigte geskryf het wat intens gemoeid is met die voorgeskiedenis & geskiedenis van hierdie kontinent, met sy politiek, mites &  folklore, was haar fokus tegelykertyd áltyd die menslike kondisie. 

In die hande van Stockenström is die mens in sy grootsheid en sotterny uitgebeeld. Enersyds as 'n "behaarde buis glorie en smet", as "opgefokte saad", uitgelewer aan 'n onverskillige kosmos, onmenslik teenoor medemens, vol selfbedrog & hubris, immer in die skadu van die altyd teenwoordige dood. Stockenström het 'n unieke idiosinkratiese siening van die dood: sy is opstandig, spottend, ironies, selde nederig.

Die mens is andersyds ook skepper, voortbringer van beskawings wat opglans & vergaan, wat met taal as medium soos die primitiewe rotskunstenaar in "Die eland" met ’n “klein klein handjie” kan uitreik & merkies kan maak, ín teen die ewigheid, woorde om te sê: Ek was hier. Die mens bewus van sy onvolmaaktheid & sterflikheid, sy onmerkwaardigheid, maar ook van die skoonheid van die skepping, & die wonder van eenmaal te kon gewees het, eenmaal deel te kon gehad het aan die Al.

Pas, na 'n stilte van veertien jaar verskyn daar weer ’n digbundel van Stockenström getiteld Hierdie mens& waar die fokus in haar oeuvre vroeër op die menslike kondisie in die breë geval het, verskuif dit met hierdie bundel na die digter, die spreker van die verse, broos, in ’n immer krimpende wêreld, maar steeds opstandig,  & op die trant van "Die skedel lag al huil die gesig" steeds satiries in die aangesig van die naderende dood: 

Nee, my ou suikerpot, my skuimpie, my Lyle’s Golden Syrup,
die lewe is nie net soet nie, die suur kom etsend by,
die bitter is soos heksverdriet, van lag maak dit broek nat,
want die dood is massavermaak en denke ’n mank stut.
Verwag jy skommelsakke gaan heuningsing in die hemel?
Die nag se hande hang langs sy sye, dooie voëls, en die dag,
nee, dié hardloop weg, huilskreeuend soos ’n hondsdolle.
Helikopters stotter deur die wind se gedrae musiek,
sterf weg soos beletseltekens van klank in lug geskryf.
Halflyf hang die struike oor die mure, o so moeg van leun.
Verstaan jy, marsepein, my stokkielekker, my bokdrolletjie?
Dit is doodgaanseisoen en die swaels sit op weggaan se drade. 


[Hoor hierso, 16]

Dit was & is my voorreg om die afgelope 37 jaar nie net die ontwikkeling van ’n merkwaardige skrywerskap mee te kon maak nie, maar ook om Wilma Stockenström as lojale vriend te kan tel, as diereliefhebber, & veelal as mens met deernis vir die slagoffers van die lewe. 

'n Gelukkige, geseënde tagtigste, Wilma, & (uit pure selfsug) mag daar nog vele meer wees.
Die vrug
Wilma Stockenström 

Onbewus van baan, van wenteling,
swel met die aarde se draai
soetjies en seker die vrug

en hang tussen rypheid en val,
lieflike liggaam van verrotting,
sy ewigheid met vrug voleindigend.
Skakels
Mens se grootsheid, sotterny uitgebeeld (Die Burger)
Al 43 jaar ’n merkwaardige skrywerstem (Beeld)
Wilma Stockenström - Poetry International
Wilhelmina Johanna (Wilma) Stockenström, SA author, poet and actress is born | South African History
Sanlam ATKV LitNet Afrikaanse Album. Wilma Stockenström (1933 - )
Wilma Stockenström - Wikipedia (Ndl)
NB Publishers | Our Authors | Wilma Stockenström

video

Dawid Minnaar lees voor uit Wilma Stockenstrom se 
"Skoelapperheuwel, skoelappervrou" (YouTube)

Poësie

1970: Vir die bysiende leser
1973: Spieël van water
1976: Van vergetelheid en van glans
1984: Monsterverse
1988: Die heengaanrefrein
1994: Aan die Kaap geskryf
1999: Spesmase
2007: Stomme aarde: 'n keur
2007: The wisdom of water (Engelse vertalings deur Johann de Lange)
2013: Hierdie mens

Prosa

1976: Uitdraai
1979: Eers Linkie dan Johanna
1981: Die kremetartekspedisie
1987: Kaapse rekwisiete
1991: Abjater wat so lag

Drama

1971: Dawid die dik dom kat: ’n kindertoneelstuk (versprei deur Dalro, c.1971)
1971: Trippens se patatta (versprei deur Dalro, c.1971)
1978: Laaste middagmaal (geskryf in 1966, gepubliseer in 1978)

Toekennings

1977: die Hertzog Prys vir Poësie vir Van vergetelheid en van glans
1984: die CNA, Louis Luyt en die Ou Mutual Pryse vir Monsterverse
1988: die Grinzanc Cavour Prys vir Spedizione al Baobab (Italiaanse weergawe van Die kremetartekspedisie)
1991: die WA Hofmeyr en Hertzog Pryse vir Abjater wat so lag
2007: Afrikaans Onbeperk prys vir Lewensbydrae tot Afrikaans



(c) Johann de Lange


Thursday, August 1, 2013

Die huwelik van woord & beeld. 26. Die voyeur (Johan van Wyk)

Francis Bacon - Studie vir 'n portret van Van Gogh, 1957

Die voyeur
Johan van Wyk

I've got nothing to say about the
human condition ‑ Francis Bacon

’n verskrikte Van Gogh
in die pad en die kwasstrepe
loop dwarsdeur hom
met sy hoed wat skaduwees maak
oor sy gesig verwilder geraam
tussen kaal bome en die hondsdoltande van sy skedel
knor

dit is ’n obsessie met die lewe
’n perverte spioenasie op die private
knor
in die visier
van die sleutelgat
’n ou hond in ’n hok
verwilder blootgestel
draf met sye skurend
teen die onsigbare draad