Sunday, November 18, 2012

Verse vir Eybers




Lia Laimböck - Elisabeth Eybers. (40 x 40 cm - akriel & goudblaar op paneel - 1997) Versameling van  Museum van Letterkunde in Den Haag, Nederland


Inhoud



Hennie Aucamp – Vier kwatryne vir Eybers
Johann de Lange – Nadors
I. L. de Villiers – Hertogin
Antjie Krog – weer eens
Lucas Malan – Afspraak
Fanie Olivier – Roulynolie
Petra Müller – Amsterdam
Joan Hambidge – Elisabeth Eybers (1915 – 2007)
Joan Hambidge – Digteres as huisvrou
D. J. Opperman – Met apologie
Lina Spies – Twee gedigte vir Elisabeth Eybers: Jong dogtertjie

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Hennie Aucamp © Alex Emsley



Vier kwatryne vir Eybers
Hennie Aucamp

Slagspreuk

Met woorde van ’n redery
het ek dié kompliment berei:
dit was wel daar, maar in jóú spraak
word die sonnet opnuut volmaak.


Tafelrede

“Ek word van ironie verdink,”
het Eybers by ’n fees gesê;
geslepe is haar retoriek:
sy het in dubbelpraat belê.


Kuras

Gestreng en Wes-Transvaals
het haar digtertaal gebly,
al het sy ook van liewerlee
in poldernewels ingegly.


Lied

Hiermaals, namaals, in die niet
klink altyd nog die kokkewiet:
onbreekbaar is die klankverbinding
tussen sangers en hul lied.

3 – 4 Desember 2007



~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

I.L. de Villiers (1936 - 2009)

Hertogin
I. L. de Villiers

jou helder halfjaar is in my donsbaardjeug verby
die prof het statig voorgelees gepraat van herfstigheid
in elke woord van hierdie vrou van by die veertig
die hersinskim van die verdriet en vreugde en vrees
nog meer as vyftig jaar sou herfs en winter aanhou bloei
– met jou déél van die fluisterende getye – soos amandelbome
daardie eerste vryheidsvoorjaar teen die heuwel uit by Praag
waar jong ma’s langs die brug sit met hul babatjies wat slaap
jy sou weer liefde vind én trane afvee oor die dood: jou kind
in later foto’s lê dié skraal spore in jou oë tog bly jy hertogin
van al ons poësie jy het dit immers jonk met skugter woord
gewaag en toe al strakker. wit blom jou verse in ’n voljaarboord

3 Desember 2007

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Antjie Krog © Keke Keukelaar

weer eens
Antjie Krog

ek kom weer eens nie uit met my budget nie
die suiker en die melkkoepons is op
langs my masjien le stapels stukkende klere
spinnekoppe weef macrame teen die mure
my gesin grawe in lee koekblikke na iets om te eet
my baba het brandboudjies
my dogtertjie swere
my oudste hakkel van een of ander tekort
my man byt op sy tande
stoot die koolbredie agteruit
en druk sy sigaret stadig in die bordjie dood...

hou jou by jou lees, se ons grootste digteres
hoe de hel doen mens dit?
ek weier om te eindig tussen wier en gras
of kinderloos met 'n minnaar langs die see
of
met die hertzogprys in 'n vreemde land
god- en grysverlate.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Lucas Malan (1946 - 2010)

Afspraak
Lucas Malan

Die uurwerk het haar enkel taak
weer stip volbring. Op ’n wintersdag
om kwart oor tien, op die tweede vlak
aan ’n kade, het die klok gestaak.
Kort tevore het die laaste uur geslaan.
Terstond het die merels buite verstom,
lont geruik en vervaard uitgeflap
na die Vondelpark. Daar, met krom
nek geboë in rougebaar, dryf nóg
so vorstelik, eenkant, ’n swaan.

3 Desember 2007



~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Fanie Olivier

Roulynolie
Fanie Olivier

die bloedende praktyk het jy vroeg gedistilleer
dit daarna dekadeslank ruimskoots gereduseer
tot on- en uitgeskrewe teorie van rym en ritme
getregter, opgevang in teer en seer en weer

5 Desember 2007



~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Petra Müller

Amsterdam
Petra Müller

Die grag is eindeloos omdat dit
wegval in ’n waterweg. Refleksies wel, en wieg.
Daar daag ’n vaalveld uitgestrek tot aan
’n horison, en bo die horison die geel son
van geregtigheid. Die vrou staan stil, sy trek
die tjalie digter om haar tenger lyf en keer
haar stadig na die graghuis om. Maar kyk nog
eenmaal terug: ek het dit reggekry om nie te lieg.

3 Desember 2007



~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Johann de Lange © Edrea Cloete

Nadors
Johann de Lange

Eybers, ’n remix

Die aard van verslawing is dat dit ontydelik kwel.
Verniet of jy, soos in ’n ou ballade, op die duur
jou daarvan losmaak met ’n kuur.
Die ritueel van cold turkey is vasgestel.

Vreemd, van onthouding word nie veel vertel.
Waar vind mens ’n volhardende gedig
om jou oor daardie wilskrag in te lig,
daardie sonderlinger hel?

29 – 30 Mei 2006



~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Joan Hambidge

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)
Joan Hambidge

U het vér van ons gestaan
in ’n klein liniaalland,
op die Stadionkade, A’dam;
soms vererg, soms verras,
hoe jonges oor die einder
met u kalwers ploeg, ironies.
Só bly u een van ons
(naastenby, naderhand),
al dig u in ’n tussentaal:
immigrant én emigrant
– tegelykertyd, subiet –
opgevang óf gestulp
in ’n versus vir die niet.

3 Desember 2007

***


Digteres as huisvrou

Joan Hambidge

Vir Elisabeth Eybers


Altyd ‘n Mr Delivery Boks teen die muur,

nooit ‘n besoeker op die onvanpaste uur.

Agendavolle dae waardeer sy oorvol,

moerig van vergadering na vergadering tol.

Wasgoed wat deur haar Bosch-masjien swaai,

sewe stelle klere plus gymbroeke aan die draai.

Eksamenskrifte, e-posse, verslae op haar lessenaar,

(‘n Toring van Babel), neffens kritieke wat stof vergaar.

Tussendeur skryf sy gedigte stiekem wyl sy werk,

haastig beweeg van dead-line tot dit wat haar binneste versterk.

O muses, wees haar genadig:

laat haar maar parodies dig!

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

D.J. Opperman

Met apologie
D. J. Opperman

Teks:
Op ’n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee
in swart geklee
met twee kolliehonde langs die see.

Elisabeth Eybers

Portret van ’n weduwee

Sy staar na die blou are op haar hand
terwyl sy in die Sondagmiddag wat
neerskyn op die rustelose strand,
geduldig sit of loop en peins: Nou dat
die vreemde bloeisel van herinnering
– skaars liefde, skaars geluk – nog vir haar bly
sal sy uit hierdie aardse wisseling
en haar verlies tog weer die sterkte kry.
So het sy klaarheid in haar gees gevind
en so geweet die middag langs die see
sy sal aan die twee kinders wat haar bind
haar hele lewe wy as weduwee;
en word sy later weer deur een gevra
wat sal sy vir hom antwoord: Nee of Ja?

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Lina Spies

Uit: Twee gedigte vir Elisabeth Eybers

Lina Spies

Jong dogtertjie

     Sex, which breaks us into voice, sets us calling across the deeps, 
     calling, calling for the complement...
     D. H. Lawrence

Jy staan voor my net met jou heuninglyfie,

die see se soutsmaak teen jou gladde vel, 
sy kleur voorlopig in jou oë bewaar, 
die sonlig in jou haartjies vasgestrik.

Van die laaste klere-lastigheid

het jy sonder seremonie ontslae geraak
en skaamte-onbewus vertoon die vlesige klein skulp
met sy dubbelvou na binne tot die smal gleufie
wat voorlopig alle toegang ontsê,
nou nog haarloos en oesterpienk totdat op dertien jaar
die see sal grys word in jou helder oë.

Dan sal jy gretig en angsvallig

na die verbode pêrel soek
maar die see en naakte son
sal jy nooit weer volledig ken nie
voordat ’n ander vlam jou tot die laaste
wit pit teen die blaker brand



~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~