Thursday, May 10, 2012

Thom Gunn - 'n Tuiste

Wrestlers (c) Hinton Adam


’n Tuiste
Thom Gunn

Grootgeword, sê hy, nie tuis nie maar in ’n Tuiste.

Gestroop van assosiasies, woorde soos “bed”,
“Ontbyt” en “verjaarsdag” harde ewige vorme
Gestandardiseer soos werksbanke in die werkswinkel
Of regulasie ysterslaapbank, met rante
Waarteen jy jou skene nerfaf gestamp het want dit was daar.

Gestroop van assosiasies.
                                            Tussen die seuns,
Het kontak, nie los, nie vry, in hoofsaak bestaan uit
Die vloer toe stoei van slaaf deur slaaf. Noem dit
Die ekonomie van kneusings: dreigemente of erger
Hou jou op jou plek, vir geriefliker hantering.
En niks gebeur terloops behalwe vullis.

So, as ’n ouer seun jou ’n strokiesboek aangee
Omdat hy groot van hart is, geen ander rede,
Het sy onvanpaste gedrag tyd omgekry.

Dit het tyd organiseer deur onthulling
Van ’n ou profesie bewaar in fragmente
Tussen die seuns, ’n korrupte mondelinge tradisie
Rondom die wederkoms van die geneenthede: want
Hulle sal gebore word, sal leef en welvarend wees ook,
Voor hulle onvermydelike martelaarskap.
Jou verstand begin ’n plek vir hulle voorberei:

En dit vind genot in die koel nuutgevonde gemak
Waarmee dit die gebruiklike tam gespannenheid ontglip
Om sekere ongekaarte grensgebiede binne te dring.
Vroeg wakker
                        in die ademende ruimte van beddens
En die yl toesiglose lig, ’n toeverlaat,
Kon jy uiteindelik ’n glimps van die toekoms uitmaak

Waarin jy soortgelyke tye sal opsoek
Tussen plekke, plekke tussen plekke, drumpels
En brandtrappe, busse en launderette,
Om in ’n stem behoedsaam en egalig te vertel, “Ek
het in ’n Tehuis grootgeword,” asof dit als verby is
en die alledaagse verskrikking daarvan bemeester is.

[Vertaal deur Johann de Lange]