Monday, July 11, 2011

Martín Espada - Swart eilande

Martín Espada

Swart eilande
vir Darío

By Isla Negra,
tussen Neruda se graf
en die anker in die tuin,
het’n man met klipkapperhande
sy seun van vyf opgetel
sodat die seun se oë myne kon deursoek.
Die seun se oë was swart olywe.
Seun, het die pa gesê, dié is ’n digter,
soos Pablo Neruda.
Die seun se oë was swart glas.
My seun se naam is Darío,
na die digter van Nicaragua,
het die pa gesê.
Die seun se oë was swart klippe.
Die seun het niks gesê nie,
en my gesig deursoek vir poësie,
my oë deursoek vir sy eie oë.
Die seun se oë was swart eilande.

[Vertaal deur Johann de Lange]