Monday, March 14, 2011

Vrye Woord: Ope brief aan die bestuur van Media24





_______________________________________________

Vrye Woord is 'n losse groepering van hoofsaaklik Afrikaanse skrywers, akademici, uitgewers en ander belanghebbendes. LitNet is die gasheer vir die nuusbrief (http://www.litnet.co.za/). Ons hoofdoel is om spraak- en meningsvryheid teen toenemende bedreiging te beskerm en die belange van alle skrywers en ander woordwerkers in ‘n ope demokrasie te bevorder. Ons is aan geen politieke of belangegroep verbonde nie. Deur die sytak WikiLigni beoog ons om enige vorm van magsmisbruik, korrupsie en verswyging aan die kaak te stel nadat dit vertroulik aan ons onthul is.

Redaksionele raadgewers: Jeanette Ferreira, Pieter Haasbroek, John Miles en Charl-Pierre Naudé. Redakteur: Charles Malan (hermes@absamail.co.za).
_______________________________________________


Soos onderneem is, is aanbevelings oor die ope brief in ag geneem en die volgende brief aan die bestuur gestuur.


OPE BRIEF AAN DIE BESTUUR VAN MEDIA24


Aan: mnr. Francois Groepe

CC: mnre. Abraham van Zyl, Peet Kruger, Tim du Plessis


Beste mnr. Groepe en ander bestuurslede

Vrye Woord is ‘n drukgroep skrywers wat die vrymoedigheid het om u vrae oor die enkele beoogde nasionale boekeredakteur vir u streekskoerante te vra nadat mnr. Tim du Plessis reeds ‘n basiese verduideliking vir die besluit gegee het en ons dit aan woordwerkers help deurstuur het.

U is bewus van die wydverspreide ontevredenheid oor die stap onder skrywers, uitgewers en ander woordwerkers. Sommige van ons oorweeg selfs 'n boikot indien dit die enigste alternatief is. Die nasionale bylaag word oorwegend gesien as ‘n verskraling van die literêre diskoers en nie ‘n verbreding nie. Die kritiek is reeds uitvoerig beredeneer op webwerwe soos LitNet en Versindaba, asook interne e-poskorrespondensie soos hierdie een wat wyd uitgestuur word.

DIE VRAE

Na raadpleging op al hierdie kuberplatforms oor die aard van ons korrespondensie met u wil ons dus graag die volgende vrae stel:

1 Wat is die basiese motivering vir hierdie sentralisering van redaksionele verantwoordelikheid? Is dit werklik slegs “beter gehalte” in ‘n gesentraliseerde blad, soos ons meegedeel word? As dit ook besparing is, hoeveel word werklik bespaar?

2 Waarom sou 'n enkele nasionale boekeredakteur die redaksionele werk beter kon doen nadat drie streekredakteurs van boekeblaaie en (aanvanklik) By volgens Media24 'n onvoldoende/ondoelmatige diens gelewer het? Gaan so 'n superredakteur dus onbeperkte bladruimte tot sy/haar beskikking hê om alles te dek wat in die verlede oorgeslaan is?

3 Is meerstemmigheid in literêre en verwante besprekings belangrik en hoe word dit hierna geakkommodeer, behalwe deur die keuses van die superredakteur wat sekerlik nie telkens drie resensies oor ‘n bepaalde boek gaan publiseer nie?

4 Is redaksionele meerstemmigheid en besluitneming oor boekverwante sake in die drie streke van die dagblaaie belangrik en wat gaan nou daarvan word?

5 Gaan die nuwe superredakteur by magte wees om landwyd te weet watter persoonlike oorweging agter die moontlike bespreking van ’n publikasie deur ‘n bepaalde resensent kan skuil in die lig van verskillende onderstrominge in die literêre wêreld?

6 Gaan daar naas die superredakteur ook nou ’n uitgesoekte groepie superresensente wees wat volkome objektief alles kan beoordeel sodat almal landwyd hulle oordeel in (gewoonlik) ‘n enkele resensie moet aanvaar? Kortweg: sal hulle dus in die posisie wees om ’n publikasie te kan “maak of breek”?

7 Gaan die verskeidenheid huidige literêre blaaie en bylaes (met die uitsondering van Rapport en Huisgenoot) nou in die nuwe superuitgawe opgeneem word sodat een uitgawe oor alles van alle boekesake vanoor die land en veral ook in die streke verslag sal doen?

8 Daar is waardering vir Rapport se boekebylaag as ‘n bykomende besprekingskanaal (hoewel talle nuwe boeke nie bespreek word nie), maar is Huisgenoot soos dit tans lyk, ook enigsins ‘n realistiese alternatief, soos ons meegedeel is?

DIE VERHOUDING MET MEDIA24

Media24 het duisende woordwerkers in sy diens, direk of indirek. Minstens honderde van ons se belange word deur hierdie plan vir ’n superredaksie geraak. Talle van ons as skrywers is onder Media24 en in die besonder NB-uitgewers se vleuels. Ons glo dus u sal verstaan as ons antwoorde op die vrae hierbo versoek.

Ons het geensins ‘n “vete” met u nie, want die woordwerkers, media, uitgewers en ander belanghebbers is wedersyds van mekaar afhanklik. Ons glo ook dat Media24 ons belange op die hart dra. Die meerderheid van ons is egter oortuig daarvan dat hier ‘n groot inperking van die literêre, intellektuele en akademiese diskoers gaan plaasvind. Afrikaanssprekendes se intellektuele ruimte is daagliks besig om te verskraal as gevolg van faktore soos ‘n regering wat steeds minder in ons regte belangstel en kommersiële instellings wat steeds meer verengels. Skrywers, akademici en ander denkers se bydrae in hierdie beperkte diskoers is van vanselfsprekende belang en mag nie verder ingeperk word nie.

Ons maak staat op u besinning oor soveel gedeelde belange. Dankie vir die aandag wat u, en in die besonder mnr. Du Plessis, reeds aan die aangeleentheid gegee het. Vrye Woord sal almal op hierdie groter forum op die hoogte hou van die korrespondensie oor die saak met Media24 en noukeurig nagaan wat met die beoogde superpublikasie gebeur.

Ons hoop egter dit is nog nie te laat vir herbesinning daaroor nie. Verskeie skrywers het reeds daarop gewys dat die nuwe superredakteur in 'n onhoudbare situasie geplaas gaan word omdat kritiek landwyd gaan instroom. Talle van ons glo dat dit 'n veel beter opsie is om die bestaande boekeblaaie in u drie streekskoerante met onder meer permanente redakteurs te verstewig. Daar is reeds die agterdeur oop gelaat dat Media24 maar eers "moet kyk hoe dit werk" - maar waarom wag totdat dit klaablyklik volgens soveel kundiges en 'n reeks argumente nie gaan werk nie?

Miskien moet ons bloot wag totdat u na die aansoeke vind dat 'n alwetende en dapper superredakteur nie daaronder tel nie!

Vriendelike groete

Charles Malan
Koördineerder, Vrye Woord


Lees ook:
Marga Collings: Nuwe skrywersorganisasie onder bespreking [Versindaba]
Francis Galloway: Afrikaanse skrywersvergadering: ’n mondstuk vir skrywers [Litnet]