Tuesday, March 15, 2011

'n Jong man & 'n leeu


Die jong man gevang deur ’n leeu

Diä!kwain
(ook vertel deur sy suster, !Kweiten-ta-//ken)

terwyl hy jag word ’n jong man vaak
hy gaan lê, hy raak aan die slaap onder ’n bos
in die hitte van die dag kom ’n leeu
die leeu sleep die man aan sy nek
die leeu sleep die man in die swartstormboom in
die leeu gaan drink water
die leeu wil nie dors wees terwyl hy die man eet nie
die man draai sy kop in die swartstormboom
die leeu kyk om, net toe kyk hy om:
roer die man? lewe hy?
die leeu draf terug
die leeu skuif die man se kop gemakliker tussen die takke in
hy lek die trane uit die man se oë
die leeu lek die trane van die man se wange
die man kyk in die leeu se oë
die leeu kyk in die man se oë en lek sy trane
die leeu draf na die water

toe die leeu oor die rant verdwyn
hardloop die man huis toe
sy ma draai hom toe die velle van ‘n hartebees
sy ma brand kruie dat die leeu hom nie ruik nie
sy pak hom met takke toe

maar eensklaps kom die leeu oor die rant
die mense gryp hulle kokers
die mense loop die leeu tegemoet
hulle skiet hulle pyle
maar die leeu kom niks oor nie

‘ons moet ’n kind vir die leeu uitgooi dat hy ons los’
hulle gooi ’n kind vir die leeu uit
maar die leeu sê: ‘ek soek nie ’n kind nie
ek soek die jong man wie se trane ek gelek het’
die mense gooi assegaaie na die leeu
maar die leeu kom niks oor nie
‘ons moet ’n meisie vir die leeu uitgooi sodat hy ons los’
hulle gooi ’n meisie vir die leeu uit
maar die leeu sê:‘ek soek nie ’n meisie nie
ek soek die jong man wie se trane ek gelek het’
die mense begin die leeu steek,
maar hy kom niks oor nie
toe roep hulle die ma van die jong man
‘jy moet jou seun vir die leeu gee,
al is hy die kind van jou hart
die leeu bedreig ons almal
terwyl hy net jou seun wil hê’

die jong man se ma sê: ‘ek sal my kind vir die leeu gee
maar julle moet die leeu doodmaak
die oomblik as hy my kind byt
sodat hy kan sterf terwyl my kind sterf’

toe haal hulle die jong man uit die hartebeesvelle
en oorhandig hom aan die leeu
en die leeu sit sy groot pote om die skouers
van die jong man
en die leeu byt
die jong man in sy nek
en die mense steek die leeu,
steek en skiet die leeu
terwyl hy die jong man in die nek byt

toe sê die leeu: ‘nou kan ek sterf
want ek het die jong man gekry
wat ek gesoek het’
en toe sterf die leeu terwyl hy op die man lê
die sterwende man


Vertaal deur Antjie Krog

Ek het die teks in versreëls opgekap as eksperiment, om een moontlike lesing te gee - Johann de Lange