Thursday, March 3, 2011

Die Groot Sáámraping - Dag 4


Ten spyte van die protes uit alle oorde het dit vandag, met nog een dag oor voor die sluitingsdatum van aansoeke vir die pos van Über-redakteur, duidelik ingesink dat Media24 nie van besluit gaan verander nie. Ek dink trouens met die aankondiging van hulle planne was dit eintlik al 'n fait accompli. Hierdie skuif is nie 'n dag oud nie.

Ek wil saam met Breyten beklemtoon dat ons in ons soeke na ‘n oplossing nie die oorspronklike woede moet verloor nie, of die teiken waarteen dit gerig is nie. Die hovaardige & dikwels minagtende houding jeens Afrikaanse skrywers is iets wat nie net gedwee aanvaar behoort te word nie. Skrywers is die brood & botter van die bedryf, & verdien beter van dié wat geld & mag uit hulle handearbeid verkry het.

Daarom, hoe radikaal dit ook al met die eerste oogopslag klink, dink ek Gerrit se oproep tot ‘n resensie-boikot verdien besinning. Dis nie asof enige resensent (altans nie dié wat ek ken) ‘n bestaan daaruit maak of daarvan ryk word nie. Dis sakgeld, of betaal vir ‘n ekstra ietsie hier & daar. Die fooie is pateties, & báie resensente doen dit uiteindelik vir ‘n goeie saak.

Wel, die bestuurders van daardie Goeie Saak het nou vir skrywers & resensente die middelvinger gegee. Moenie daardie Vinger uit die oog verloor nie. Dit is dieselfde Vinger, of dan ‘n reïnkarnasie daarvan, wat ons in die ou dae van P.W. Botha gekry het.

Wat anders is dit as die gedrag van 'n bedryf in krisis. Kopergetalle neem af, ten spyte van die vervlakking & opdis van sensasionele snert. Hulle weet hulle dae is getel & hulle is besig om die skip te verlaat. Dit is belangrik dat ons vollédig, & so gou doenlik heeltemal na die elektroniese media beweeg. Báie van ons lesers is reeds daar. Knip daardie naelstring. Media24 is in elk geval besig om dit vír ons te doen.


Ns.

Wanneer ek kyk deur die name wat betrokke is by hierdie debat dan is daar 'n klompie name wat ek mis. Kan ons aanneem dat die aansoeke vir die pos van Über-redakteur uit hierdie groepie kom?


Sien ook:
Louis Esterhuizen - Dag 4: Hoe nou verder? [Versindaba]
Andries Visagie - ’n Veelheid van stemme is nodig [Litnet]
Johan Swarts - Boeke-besluit is geen katastrofe[Litnet]
Johan Swarts - Dood van die griffelaars (gedagtes oor die amalgamasie van Afrikaanse boekeblaaie)