Sunday, November 7, 2010

James L. White - Liefde met myself



Wanneer ek dit doen, onthou ek hoe dit was met ons.
Dan onthou my hande ook,
en jy’s weer by my, net soos dit was.

Na werk sou jy inkom en
die TV afsit en op die rand van die bed gaan sit,
die vertrek vul met petrolreuk van jou werkklere,
probeer om my nie wakker te maak nie hoewel jy altyd het.
Ek sou stadig uitadem en sê,
‘Hi Jess, jy moeg beertjie?’
Jy sou sê nie te veel nie en my maag vryf,
nie jags vir my nie, net baie dierbaar,
en ek sou altyd ’n klein bietjie doodgaan
want jy het geruik na verbrande blare of bosrook.

Ons was so arm soos Job se kalkoen maar het ’n goeie lewe gehad —
kos, ’n paar goeie flieks, goeie dagga, baie gesels,
baie van jou en my wat in mekaar se velle probeer glip.

Wat ’n bedagsame geskenk is dié nie,
gemaak met my geheue, my voël en hande.

Soms word ek wakker en wonder of ek vir ons
moet koffie maak voor werk,
glo amper jy is weer hier, sien amper
jou werksbaadjie op die stoel.

Ek wonder of jy onthou wat
ons mekaar belowe het toe jy die werk gevat het in Laramie?
Ons manier van bymekaar bly.
Ons het belowe daar sou altyd tye wees
wanneer die lug absoluut helder is,
dat ons mekaar daardeur kon onthou.
Jy kon my onthou by my lessenaar
of en die deurnag restourante,
hoewel ons nooit sou bel of skryf nie.

Ek moet hier ophou Jess
Ek moet nou ophou.


[Vertaal deur Johann de Lange]